
Die alomgewilde rasperstem-sanger Dozi en die gesoute liedjieskrywer Stef Kruger was nog altyd ‘n wen-kombinasie. Dozi het al nie minder as 59 liedjies van Kruger opgeneem - waarvan vele liedjies soos Tussen Jou en My, Ma se Song en Grassade in die Wind groot treffers geword het. Die twee ‘groot geeste’ in die musiekbedryf loop al ‘n suksesvolle pad sedert Dozi se eerste Afrikaanse album Op aanvraag waarvan Stef ‘n groot gros liedjies geskryf het. (Op Aanvraag het meer as 100 000 eksemplare verkoop en dus dubbel-platinum status verwerf.) Hul suksesvolle vernnootskap is voortgesit en Stef het op Dozi se album Siyaya (wat platinum-status verwerf het) tien liedjies geskryf en op Dozi se album Kruispad het weer twaalf liedjies uit Stef se pen gekom.
Dozi vertel dat Stef intussen na Oudtshoorn verhuis het en dat hy besig was met ander projekte - dus het hulle die afgelope paar jaar nie meer so nou saamgewerk het nie.
“Ons het egter onlangs weer besluit die tyd is nou ryp om te begin by die begin en weer saam te span - vandaar my jongste album Terug by die begin se titel,” verduidelik Dozi.
Stef het nie minder as veertien nuwe liedjies op Terug by die begin geskryf en Dozi het self een liedjie, Wasifela (‘n Zoeloe gospelliedjie wat beteken ‘Hy het vir ons gesterf’) neergepen. Stef se manier van skryf lê hom baie na aan die hart, vertel Dozi.
“Stef se lirieke is betekenisvol en van sy liedjies vertel ook lekker stories,” meen Dozi en hy verwys na Stef se liedjies Mot en Leelatjie op sy nuwe album.
“’n Mens kan met Stef se liedjies identifiseer.” Van die liedjies wat Stef spesiaal vir die nuwe album geskryf het, pas Dozi se rasperstem soos ‘n handskoen.
Stef vertel sy inspirasie vir liedjies kom uit gebeure en mense wat hy op sy pad teëkom, vertel Stef. “Ek is baie lief vir fotografie en het onlangs foto’s in ‘n kleuringgebied gaan neem waar ek toe ‘n seuntjie raakgeloop het wat na sy ma en sy pa soek. Ek het toe Weggooikind daarna geskryf. “Ek kry ‘n idee en skryf dan baiekeer die storie klaar. Die liedjie Leelatjie spruit byvoorbeeld uit ‘n storie oor ‘n straatvrou wat werk om aan die lewe te bly. Ek het die storie sowat vyf jaar gelede by iemand op ‘n vliegtuig gehoor en toe die liedjie gaan skryf.” Stef sê dat dit vir hom baie lekker was om weer die ou bande met Dozi op te tel. “Toe ons nou weer met die nuwe album saamgewerk het, het dit gevoel of ons nooit opgehou het om saam te werk nie.”
Dozi word ondersteun deur top musikante soos Denny Lalouette (baskitaar) Vinnie Henrico (dromme) en toonaangewende trompet- en saxofoon-spelers op sy twaalfde album. ‘n Paar kinderkore se klokhelder stemme komplementeer Dozi se rasper-stem op ‘n paar liedjies.
Terug by die Begin word vanjaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn bekendgestel. Dozi gaan beslis van sy nuwe liedjies - sowel as ou treffers - tydens sy vertonings by die KKNK sing. Voor die KKNK gaan hy ook eers bietjie in die Kaap rond toer om sy nuwe album daar bekend te stel.
Benewens sy nuwe solo-album beplan Dozi en Nianell ook ‘n tweede duet-album wat later vanjaar opgeneem word. Die twee gewilde sangers se eerste duet-album Take Two is ‘n groot verkoper onder musiekliefhebbers en hulle gaan vanjaar ook nog gereeld die verhoog deel.
Dozi (44) vertel dat hy nou op ‘n baie ‘gelukkige plek’ in sy lewe is.
“As ek nie optree nie, is ek meesal by my huis hier by Hartebeespoortdam waar ek kitaar oefen of in my tuis-gimnasium oefen.” Maar hy het nog glad nie moeg geword vir konsert-hou nie. “Ek is op my gelukkigste wanneer ek sing. Dit gaan hoegenaamd nie vir my oor hoeveel CD’s ek verkoop, hoe bekend ek word of vir hoeveel mense ek sing nie.“Of ek nou vir twee mense sing - soos ek destyds in die pubs gedoen het - of vir 4 000 mense, dit is nie vir my belangrik nie. Solank ek net kan sing - musiek is my lewe en ek wil nooit iets anders in my lewe doen nie.”














